Friday, 22 February 2013

Belangrike raad vir jong redenaars.

Redenaars en debat kompetisies kan wonders doen vir 'n jong kind se selfvertroue. Maar sekere punte moet onthou word om sukses te kan behaal.

Die mees algemeenste struikelblok vir kinders en selfs volwassenes is dat hul so opgewonde is met hul toespraak dat hul soms vergeet om die struktuur wat gestel word deur die organiseerders van die redenaars te volg.  'n Eenvoudige voorbeeld is dat die meeste kompetisies vereis dat jou toespraak moet 'n standpunt ondersteun en dit is dus die spreker se verantwoordelikheid om die gehoor en beoordeelaars te oortuig van hul standpunt.  Die lokval hier is dat soms gebeur dit dat 'n fantastiese toespraak informasie oordra, en is dan nie meer 'n redenaar-toespraak nie, maar kreatiewe toespraak.  Maak nie saak hoe goed die inhoud en navorsing is van die toespraak nie.  Daar moet, en ek beklem, MOET ten alle tye binne die struktuur van die organiseerders gewerk word.

Nog 'n algemene probleem wat voorkom by veral sprekers met 'n sterk en flambojante persoonlikheid, is dat 'n toespraak baie eenders voorkom as 'n solo verhoogstuk.  Dit is wel algemeen dat daar gebruik gemaak word van "scenarios" of "karakters" om 'n goeie argument te redeneer.  Maak net seker dat die punt wat jy wil maak nie weggesteek word deur uitstekende toneelspel nie.

Voorbereiding, voorbereiding voorbereiding!  Heel maklik die belangrikste faktor in enige toespraak of redenaars kompetisie.  En dit moet vanselfsprekend wees dat die onderwysers of afrigters van deelnemers baie tyd en energie moet afstaan om sprekers voor te berei.  Die inhoud kan uitstekend wees.  Maar sonder voorbereiding, is dit nie eens die papier waarop die geskryf is werd nie.

Probeer om altyd 'n goeie aanhaling in te sluit in jou opening of afsluitings argument.  Persoonlikhede en figure soos Moeder Theresa, Mahatma Gandhi, Nelson Mandela ens is altyd 'n betroubare roete om te volg.  Selfs gedigte wat handel oor die onderwerp werk goed, solank as wat dit van 'n bekende skrywer is en nie van enige Jan-Rap en sy maat op die internet nie.

Hiermee sal afrigters en onderwysers moet bystaan.  Leer ken jou beoordeelaars.  Vind uit wie hulle is.  By watter kompetisies was hulle al betrokke en wat is hul voorkeure.  Dit is nie "gatkruip" nie.  Maar loop hand aan hand met voorbereiding.  Jy wil nou nie iets sê wat vir een enkele indivu aanstootlik is nie. 

Maak gebruik van handgebare.  Die "Toastmasters" handleiding leer hul lede die belangrikheid om handgebare te gebruik, en dit is definitief 'n uitstekende manier om 'n gehoor se aandag te trek.  Vang dadelik hulle onkant deur om 'n gebalde vuis met mening op die podium te slaan om agressie te verteenwoordig.  Moenie dat jou hande jou aandag aflei nie.  Moet nooit met jou hande in jou heupe staan nie. As jy nie weet wat om te doen met jou hande nie,  hou die podium vas aan die kante met albei hande.  Ek los dit tot u eie verbeelding.

En dan om mee af te sluit.  Redenaars is pret.  Dit is definitief 'n goeie leerskool en bevorder nie net kommunikasie vermoë nie. Maar ook selfvertroue.  Daar gaan oomblikke wees wat jy ongelukkig is met uitslae, wat kritiek bietjie swaar mag wees.  Jy sal dalk wil tou opgooi,  maar moenie.  Dit is slegs deur oomblikke soos dit wat jou beste materiaal vorendag kom.

Sterkte aan alle deelnemers van die ATKV redenaarskompetisie!

Vriendelike Toespraak Groete
Toespraak hulp

1 comment:

  1. Goeie dag - bied jy nog die diens aan - ek soek hulp met die skryf van mondelinge praatjie vir n graad 1 leerling

    ReplyDelete